Snotkop het ‘n nuwe album uit en dit is ‘onverantwoordelik lekker’

Snotkop het ’n soliede reputasie van albums wat so oorloop van lekkerkry dat dit voel of dit onwettig behoort te wees. Sy kraakvars nuwe vrystelling, SOUS is geen uitsondering nie.

Van die eerste pols tot die laaste eggo in die dertien snitte wat die album beslaan is dit duidelik dat hierdie ’n gekonsentreerde sous, propvol Snotkop-oemf is: ritmies, selfversekerd, tong in die kies, meer as net ’n bietjie stout, bekkig en braaf!

Daar’s dik baslyne wat enige iets binne dieselfde skakelkode as jou kuier sal skud, met ’n gesonde dosis techno, afgewissel met meer akoestiese oomblikke, en selfs ’n brokkie reggae en ’n tikkie sakkie-sakkie hier en daar – iets wat ewe tuis sal wees by ’n sokkie dansvloer, klub of ’n strandpartytjie vir die boeke.

Meeste van die snitte het hope tempo en skop, maar daar’s ook ’n paar wat rustiger is vir bietjie asemskep, vir diegene wie se partytjie-lywe bietjie oefening nodig het.

Die snitte op die album getuig van ’n ou wat wéét hoe om te jol en bes moontlik net slaap wanneer dit nou régtig moet. Dit sluit Souserig, Kortbroek en plakkies, Dik in Desember, Dropit soos ’n Disprin, Jy raas, Jeukerig, Plat plaasmatras en Proe soos naweek in.

Een ding is vir seker: As jy nie met ’n glimlag op jou bakkies geplak staan en groove saam met die ritmes van hierdie album nie, is jy waarskynlik besig om, onwetend, eintlik na iets anders te luister!

SOUS is ook op Apple Music beskikbaar. Met meer as 45-miljoen liedjies bied Apple Music ’n gratis proeftydperk van drie maande, sonder advertensies of enige verpligting om ’n intekenaar te word. Apple Music is op iPhone toestelle beskikbaar en kan ook van Goolge Play afgelaai word vir Android-fone.

Loer hier onder na die nuwe musiekvideo van hom:- Snotkop – Souserig

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment