Koos du Plessis was ‘n wonderlike sanger en ‘n man met baie talente, hier is ‘n Bio oor hom

Koos du Plessis (geb. Rustenburg, 10 Mei 1945 – oorl. Krugersdorp, 14 Januarie 1984) was ‘n Suid-Afrikaanse musikant wat toonaangewend was in die Afrikaanse musiek-en-liriekbeweging van die 1970’s en ’80’s.

Hoewel hy kommersieel nie baie suksesvol was as uitvoerende kunstenaar nie, het die albums wat hy in sy leeftyd uitgereik het, ‘n nuwe rigting in Afrikaanse musiek ingelui en word dit vandag as van die invloedrykstes in die taal se musiekgeskiedenis beskou. Tientalle verwerkings van sy komposisies is sedertdien deur verskeie ander Afrikaanse kunstenaars opgeneem en ‘n hele paar het huldeblyk-albums aan hom opgeneem.

Du Plessis is op 14 Januarie 1984 in ‘n motorongeluk op die ou Krugersdorppad in Knoppieslaagte oorlede, nadat sy Volkswagen Kewer op ’n laagwaterbrug in Knoppieslaagte naby Centurion die pad byster raak terwyl hy ná middernag op pad is na Nick Taylor, sy musiekregisseur.

Slegs drie Afrikaanse albums is onder sy naam uitgereik.[3] Opnames van nuwe liedjies wat na sy dood ontdek is, het tot ‘n vierde album gelei wat in 1995 postuum uitgereik is.

Jacobus Johannes du Plessis is op 10 Mei 1945 in die distrik Rustenburg gebore waar sy ouers geboer het. Toe sy ouers hul plaas verloor, het die Du Plessis’s na Springs verhuis waar Koos ‘n groot deel van sy kinderlewe gewoon het. (Hy het later ‘n liedjie oor die dorp en sy lewe hier, genaamd Molberge (Herinneringe aan Springs), op sy tweede album opgeneem.)

Du Plessis het aan die Laerskool Pam Brink en Hoër Seunskool Hugenote skoolgegaan. Toe hy in standerd agt (graad 10) was, het hy ‘n poging aangewend om sanglesse te neem, maar hy is deur die musiekonderwyseres afgeraai weens ‘n skynbare gebrek aan vaardigheid.

Hierna word hy in 1967 koerantman wat vir die res van sy werkloopbaan as joernalis, subredakteur en nuusredakteur by verskeie publikasies werk. Eers bly hy in Springs by sy ouers en werk in Johannesburg by Die Vaderland. Later trek hy egter na ’n woonstel in Joubertpark in Johannesburg. Hy is op 22 Junie 1969 getroud met Mornay du Plessis van Standerton, wat hy reeds in 1964 in Pretoria op universiteit ontmoet.

Sy is die tweede oudste dogter van die bekende pastoor Justus du Plessis van die Apostoliese Geloofsending. Hulle het ’n kort wittebrood in Europa. Daarna gaan woon hulle in Amanzimtoti in Natal, waar Koos in 1970 by Die Nataller werk as nuusredakteur en hoofsubredakteur en later bevorder word tot adjunkredakteur, en Mornay skoolhou. Aan die einde van 1971 reis hulle deur Europa en besoek onder andere Frankryk, Spanje, Nederland en Duitsland.

Die idee was eintlik om ’n baie langer reis te onderneem, maar Koos word baie siek en hulle keer eerder terug huis toe. Dan woon hulle vanaf 1972 in Randburg, waar Koos weer by Die Vaderland werk. In hierdie tyd skryf hy deeltyds in by die Universiteit van die Witwatersrand en verwerf ’n B.A. Honneurs-graad in Afrikaans-Nederlands.

Teen die einde van 1972 kry hy ’n aanstelling by Oggendblad in Pretoria, waar hy uiteindelik vir ’n dekade sou werk as subredakteur, nuusredakteur en hoofsubredakteur. Hulle woon eers in ’n woonstel in Sunnyside, maar in 1973 met die geboorte van Irma, hulle eerste dogter, bou hulle ’n huis in Wierdapark, ’n voorstad van Centurion naby Pretoria, waar hy tot met sy dood woon. Hier word sy ander twee dogters, Karien en Karla, in onderskeidelik 1974 en 1975 gebore. Karla volg in haar vader se voetspore en neem verskeie CD’s op. In 1983 sluit hy as subredakteur aan by Die Transvaler.

Reeds as jong seun toon hy groot aanleg vir musiek en bespeel sy ouma se traporreltjie, wat later ’n ereplek in sy eie huis gekry het. In standerd agt wend hy ’n poging aan om musiekles te neem, maar die musiekonderwyser ontmoedig sy ma omdat dit volgens hom ’n mors van geld sou wees!

As student ontdek hy die ghitaar, wat sy gunsteling instrument sou word en bemeester met die hulp van ’n vriend die drukke. Hy onderskei hom as liedjieskrywer van formaat, wat veral met sy trefferliedjie Kinders van die wind (gesing deur Laurika Rauch) bekendheid verwerf. Dit word die temalied vir die televisiereeks Phoenix en Kie, haal die Duitse en Franse trefferslyste en word deur verskeie kunstenaars reg oor die wêreld opgeneem, onder andere deur Richard Clayderman. Koos skryf reeds liedjies tydens sy studentejare aan die Pretoriase Onderwyskollege en Kinders van die wind is reeds in 1968 geskryf.

In 1975 het Karl Theunissen, ‘n vriend van Du Plessis, ‘n kassetopname van laasgenoemde se musiek na Nick Taylor geneem.[5] Taylor was die bestuurder van die onafhanklike platemaatskappy Incline House-musiek en het ‘n tuisateljee gehad. Twee jaar later het Du Plessis op die televisie-program Perspektief (met Theunissen as regisseur) drie van sy liedjies gesing en dit opgevolg met nog optredes op die program Musiek en Liriek. ‘n Reeks konserte by Die Laager by die Markteater in Johannesburg het gevolg.

Die TV-regisseur Katinka Heyns was in 1979 op soek na ‘n temaliedjie vir haar komende reeks Phoenix en kie. Sy het Du Plessis se liedjie Kinders van die wind (wat toe reeds tien jaar vantevore geskryf is) ontdek en besluit om dit te gebruik. Sy het egter besluit om ook drie ander liedjies van Du Plessis (Sprokie vir ‘n stadskind, Skielik is jy vry en Somer is verby) by die reeks in te sluit wat, tesame met die temaliedjie, almal deur Laurika Rauch gesing is.[5] Phoenix en kie was die deurbraak wat beide Du Plessis en Rauch nodig gehad het om hul loopbane van die grond af te kry. Rauch het twee weke later ‘n kortspeler van Kinders van die wind uitgereik wat sewe weke later goue status bereik het[5][6]

Na die sukses van die reeks het Taylor en Du Plessis in dieselfde jaar begin om aan laasgenoemde se eerste album, met die titel Skadu’s teen die muur te werk. Die album is in 1980 uitgereik. Behalwe vir die vier liedjies wat in Phoenix gebruik is, het die album verskeie ander liedjies ingesluit wat later ewe bekend geword het, soos die titelsnit, Herman (‘n ode aan ‘n afgestorwe vriend), Op die pad na Nooitgedacht en As jy my kon volg. Laasgenoemde is na sy dood hermeng met ‘n opname van sy dogter Karla, sodat sy en haar pa ‘n postuum-“duet” kon sing. Die album Skadu’s teen die muur is benoem as Afrikaanse Langspeler van die Jaar tydens Springbok Radio se SARI-toekennings en Kinders van die wind het die SARI-toekenning vir Liedjie van die Jaar ontvang.

Die lirieke van sy bekendste liedjies word in die bundel Kinders van die wind gepubliseer. T.T. Cloete beskou hierdie werk soos volg: “In sy soort is die werk van Koos du Plessis goed, en in sy direktheid en eenvoud is dit beter poësie as baie van die hooggestemde verse wat wil deurgaan vir die poësie”. Sy temas is verganklikheid, menslike verhoudings se dinamiek en broosheid en die krag van herinneringe en drome, terwyl hy deurentyd ’n skerp insig wys in die menslike kondisie.[7][8]

Na sy dood verskyn daar in 1985 ’n versameling van sy nagelate verse, Om jou verlaas te groet[9][10] en in 1995 ’n verdere versameling onder die titel Skink nog ’n uur in my glas, wat beide lirieke en gedigte insluit. Al sy voorheen gepubliseerde liedjies en verse, plus ’n groot aantal wat voorheen ongepubliseer was, word saamgevat in die versamelbundel van sy werk wat onder die titel Erfdeel gepubliseer word.[11][12][13] Hierdie bundel bevat ook ’n voorwoord deur die samesteller, sy dogter Irma du Plessis, en ’n oorsig oor sy lewe en musiek deur Andries Bezuidenhout.

Sy verse word opgeneem in verskeie versamelbundels, waaronder Groot verseboek, Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte, Die dye trek die dye aan en Goudaar.

Sy kortverhaal Om ’n misdaad te skep word in die Februarie 1980 uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer.

Met 25 000 verkope van Kinders van die wind verower hy in 1979 ’n goue plaat en word dan ook die eerste komponis wat so ’n toekenning verwerf, aangesien goue plate gewoonlik slegs aan uitvoerende kunstenaars toegeken word. In 1980 ontvang Koos ook ’n Sarie-toekenning vir Kinders van die wind as Die Liedjie van die Jaar. In 2013, in ’n omvattende en landwye veldtog wat deur Maroela Media aangebied is, word Kinders van die wind aangewys as die grootste Afrikaanse liedjie van alle tye.[14]

In 1982 word sy tweede album As almal ver is, benoem vir ’n Sarie-toekenning as Afrikaanse Langspeler van die Jaar.

Op 9 Augustus 1983 kry hy ’n oorkonde van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) uit erkenning vir sy bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Na sy dood word daar op verskeie maniere hulde gebring aan hom. Verskeie kunstenaars neem van sy liedjies op en Johannes Kerkorrel en Piet Smit stel albums vry waarop hulle slegs sy liedjies sing. ’n Dokumentêre televisieprogram oor sy lewe, Koos Doep – Kind van die wind word vervaardig en in 1986 uitgesaai. In 1987 word die album Koos se plaat – ’n Huldeblyk aan Koos du Plessis deur Nick Taylor, Lucas Maree, Jannie du Toit en Coenie de Villiers opgeneem en in 2004 verskyn die album Koos du Plessis: 20 jaar later, waarop kunstenaars soos Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Matthys Roets, Lucas Maree, Johannes Kerkorrel, Dozi, Amanda Strydom, Jannie du Toit, Karla du Plessis en Steve Hofmeyr van sy liedjies vertolk. ’n Musikale produksie van sy liedjies, Skadu’s teen die muur, word onder die regie van Stephan Bouwer vanaf 1992 vir etlike jare gereeld opgevoer deur Jannie du Toit, Christa Steyn, Marié du Toit en Anna Davel.

P.G. du Plessis skryf die musiekteaterstuk Nagkantoor oor sy lewe wat in 2004 by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en daarna op verskeie plekke in die land opgevoer word. ’n Album van hierdie drama word ook vrygestel. In 2004 kry hy postuum die Huisgenoot Skouspel-toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek.[6]

Ook in Nederland maak sy liedjies opslae wanneer dit daar ontdek word en in 2009 word ’n CD met Nederlandse vertalings en vertolkings daarvan deur van Nederland se bekendste sangers vrygestel.[15]

Du Plessis was lidmaat van die Gereformeerde kerk Wierdapark in Centurion en is uit dié kerk begrawe.

Luister hier onder na een van sy baie gewilde treffers:- Koos du Plessis – Sprokie vir ‘n stadskind

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment