Die sangeres Juanita du Plessis het geen bekendstelling nodig nie, maar hier is ‘n paar goedjies wat jy dalk nie geweet het nie

Die blinkste ster aan die Suid-Afrikaanse musiek-uitspansel is ons eie Platinum prinses, Juanita du Plessis. Sy is lank reeds gekroon as ons land se top Afrikaanse vroue-kunstenaar en sy gaan nie gou van haar kroon afstand doen nie.

Juanita se roemryke loopbaan het in 1998 afgeskop met haar debuut-album “Juanita” . In dieselfde jaar wen sy verskeie toekennings en dit was toe reeds duidelik dat Juanita se liedjies wèrk! Na baie gebede en wag verskyn haar tweede album “Ek en jy”, Ska-Rumba was die bonussnit.

‘n Suksesverhaal met vele mylpale word geskryf. ‘n Klompie skitterende, suksesvolle albums sien die lig en in 2003 word Juanita die eerste Afrikaanse sangeres wat die nr. 1 posisie op RSG se amptelike Top 20- treffersparade haal en drie weke agtereenvolgens bo-aan bly!
(Die treffersparade behels beste verkopers in SA- plaaslik en internasionale albums)

In die volgende vyf jaar verander die meisie van Suidwes se lewe drasties. Die Du Plessis-gesin het intussen hul geboorteland, Namibië en Gobabis (hul tuisdorp vir 5 jaar – op daardie stadium) agter gelos en hulself gevestig in Pretoria. Nog albums sien die lig en Juanita herskryf weereens die rekordboeke toe haar algehele verkoopsyfer in 2010 die 1.6 miljoen merk bereik. Haar tweede Gospel-album, “Vlieg Hoog” (2007), is aangewys as die Top Afrikaanse Gospel-verkoper van alle tye.

In 2012 behaal Juanita ‘n mylpaal wat sy nooit vir haarself kon indink nie. Sy word die eerste kunstenaar in die Afrikaanse geskiedenis om 2 000 000 albums in Suid-Afrika te verkoop.

Juanita du Plessis se loopbaan spreek van roemryke prestasies, kosbare mylpale, nederigheid en toewyding, en die toekennings op haar kerfstok oortref diè van die meeste kunstenaars in Suid-Afrika.

WIE IS JUANITA?
Gebore: 26 April in Windhoek (Namibië)
Skool: Laerskool Suiderhof en Windhoek Hoërskool, in Windhoek.
Naskool: Gekwalifiseer as sekretaresse. Het vir ‘n vervoermaatskappy in Windhoek gewerk en vanaf 1996 was sy net ‘n gewone huisvrou toe hulle Gobabis toe verhuis het.

Gesin: Juanita is ‘n gesinsmens en haar gesin is vir haar baie belangrik en kosbaar. Sy en haar man, Doepie, spog met drie pragtige kinders: die tweeling, Mario (seun) en Franja (dogter) en ouboet Ruan
Karakter: Juanita is ‘n diep gelowige, ambisieuse, saggeaarde en liefdevolle mens.
Brooshede: Sy erken self: “Ek’s nie goed met die hantering van afbrekende kritiek, onregverdigheid, hartseer en verdriet nie. Ek is maar ’n baie sensitiewe mens… Maar deur die jare het ek al geleer hoe om dit te hanteer en probeer ek altyd die positiewe in elke situasie soek! Maar alle antwoorde op vrae is in die Bybel; dis my anker.”
Swakhede: “Ek is al van kleins af baie kleinserig met my hare! En ek is doodbang vir vlermuise, rotte, “roman” spinnekoppe en baie diep water…

JUANITA DIE MENS
“Ek is ‘n doodgewone vrou; ‘n ma wat elke dag my droom en passie lééf! Ek is ontsettend dankbaar vir wie ek is, waar ek is en wat ek het… Ek wil elke dag die instrument wees om mense aan te raak deur my musiek, hetsy om hulle te laat lag, te laat huil, te bemoedig of net beter te laat voel oor die lewe en dalk ‘n bietjie hoop te kan gee. Dit is ‘n geweldige voorreg en eer om hierdie instrument in God se hande te kan wees. Ek glo dit is my uiteindelike skeppingsdoel hier op aarde.”

Juanita se bewonderaars beskryf haar as stralend, vriendelik, pragtig, opreg, eerlik, bemoedigend, vertroostend, inspirerend, belangstellend, bedagsaam, ’n rolmodel, ‘n liefing… ‘n engel! Haar familie en vriende beskryf haar as Godvresend, saggeaard, deernisvol, liefdevol, innoverend, professioneel, vasberade, doelgerig en ‘n voorbeeld van nederigheid.

Loer hier onder na een van haar musiekvideo treffers:- Juanita du Plessis – Tussen Woorde (OFFICIAL MUSIC VIDEO)

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment