Die sanger Jannie du Toit is ‘n gewilde sanger in Afrikaanse musiekkringe: Hier is ‘n kort Bio oor hom

Jannie du Toit – liedjieskrywer en sanger van veral Afrikaanse en Nederlandse kleinkuns – is op 13 Desember 1951 in Heidelberg gebore. Hy neem klavierlesse vanaf sesjarige ouderdom, maar begin kitaar speel op vyftien en het altyd daarvan gedroom om sy lewe lank musiek te maak en te sing.

VROEË LOOPBAAN AS SANGER
Hy het in 1971 as student in ‘n pop/rock-groep gespeel, maar ook betrokke geraak by Afrikaanse musiek as lid van die folkgroep TRILOGIE wat in 1975 op die proefuitsendings van SATV hulle landswye debuut maak. Hy voltooi sy B Iuris-LLB by RAU (nou Universiteit van Johannesburg, UJ) maar verlaat die regsberoep in 1980 om ‘n musiekloopbaan te begin.

Saam met onder andere Koos du Plessis, Laurika Rauch, Anton Goosen, Louis van Rensburg, Coenie de Villiers en Clarabelle van Niekerk, speel hy ‘n belangrike rol in die Musiek- en Liriek/Luisterliedjie-beweging van die laat sewentigerjare. Hy skryf in 1978 sy bekendste lied, getitel ‘N LIEDJIE VIR JOU. Sy opname van 1980 word nog steeds gereeld gehoor, maar dit is ook al deur tientalle ander kunstenaars opgeneem en is in Spaans, Chinees en Duits vertaal.

EERSTE TREË AS PROFESSIONELE KUNSTENAAR
Hy word in 1980 deur prof Chris Lamprecht by Tukkies aangestel waar hy vir ‘n studentegroep onder andere LOELOERAAI skryf saam met prof Anna Neethling-Pohl – een van die heel eerste musiekblyspele in Afrikaans. Dit was gebaseer op Langenhoven se ruimtefiksie van 1923. Sy eie oorspronklike blyspel, GANSDANS, ontstaan ook in dié tyd.

By sy huis, Margaretastraat 28 in Pretoria, begin hy in 1981 met legendariese liedjie-aande wat ‘n belangrike baken van die MUSIEK EN LIRIEK-era bly. In 1987 stel regisseur/akteur/digter Stephan Bouwer Jannie aan die kabaretverhoog – en die Nederlandstalige musiek wat hom reeds sedert 1980 geïnteresseer het, bekend. Die program saam met Laurika Rauch, getitel VAN BERLYN TOT BAPSFONTEIN, sou sy verdere loopbaan sonder twyfel baat.

OM DIE WÊRELD SAAM MET CHRISTA
Jannie werk sedert 1986 saam met die virtuose Christa Steyn as sy begeleier, verwerker, medeskrywer en verhoogvennoot. Vir 25 jaar het hulle oral in Suid-Afrika en in 20 ander lande musiek gemaak.

Hulle gesamentlike verhoogprojekte – dikwels saam met ander topkunstenaars – sluit BLIK EN SNAAR (1986), SKADU’S TEEN DIE MUUR (1992), DE KLEINE MAN (1994), NAGKANTOOR (2004), JANNIE EN DIE TANNIE (2006), HARTSNAAR (2008) en BREL IN BROOKLYN (2010) in – om maar enkeles te noem.

Hulle was ook twintig jaar lank saam met Lucas Maree en Johann van der Watt betrokke by die ATKV se Liedjieskryfwerkswinkel. Hulle gesamentlike werk is verewig op ‘n verskeidenheid CD’s, DVD’s en ook op televisieprogramme en langspeelplate.

VENNOTE IN MUSIEK
Nadat Christa in 2012 ‘n jaarlange stryd teen kanker verloor het, werk hy saam met ensemble’s wat tjello, (Susan Mouton) klavier en akkordeon (Clinton Zerf, Coenraad Rall en Chanie Jonker) insluit.

ONDERWEG was die verhoogproduksie – saam met ‘n vierstuk CD/DVD-stel en ‘n koffietafel-boek – waarmee hy in 2011 sy 40 jaar in Afrikaanse musiek gevier het.

Daarna kom GRYS AREAS saam met Renette Bouwer, waarin hulle Gisela de Villiers se DIE EGGO VAN JOU OË en DIE CORDON BROERS se KOSSêRT (vanaf 2012) saam met Lochner de Kock gevolg. Sy musiekverwerkings word meesal deur die briljante jong pianis, Clinton Zerf gedoen en sy program oor die musiek van Koos du Plessis – DOEP IS NIE DOOD NIE (vanaf 2014), is landwyd gewild. Daarop volg in dieselfde jaar GRENZELOOS NEDERLANDS waarmee hy in Nederland getoer het.

Sy jongste produksies is BONJOUR MONSIEUR BREL saam met sy vaste ensemble en KIEKIES – LUCAS SE LIEDJIES saam met Thean Kotzé van SES SNARE-faam.
Jannie du Toit

NEDERLANDSE KLEINKUNS
Jannie het gedurende die oplewing in Afrikaanse musiek van die sogenaamde Luisterlied van die Nederlande gehoor. Hy het aan die einde van dieselfde jaar, 1979, Herman van Veen se album DE WONDERLIJKE AVONTUREN VAN HERMAN VAN VEEN in Amsterdam gekoop en is so daardeur begeester dat hy tot vandag toe groot waarde plaas op die wisselwerking tussen Afrikaanse en Nederlandse musiek.

Sy eie musiek en sy musiekloopbaan is ingrypend deur daardie “Eureka-ervaring” beïnvloed. Sy persoonlike held is Jules de Corte, wie se liedjies hy en Christa vir jare onder andere by vererings van de Corte in Nederland uitgevoer het.

Hy het ook persoonlik bevriend geraak met Robert Long en het deur die jare liedjies van Herman, Robert en talle ander Nederlandstalige kunstenaars op sy albums en in verhoogproduksies bekend gestel. Saam met Christa tree hy in 2006 by die VLAAMS NATIONAAL ZANGFEEST op en vanaf 1988 tot op hede onderneem Jannie gereeld toere na daardie wêrelddeel.

Jannie tree in Januarie op by die Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging se Nieuwjaarsborrel in Zuid-Afrikahuis, Amsterdam, en oorhandig ’n kopié van die nuwe FAK sangbundel – waarvan hy medewerker was – aan die nuutverkose voorsitter van die NZAV. In 2014 het hy saam met Bert van den Brink oral in Nederland ‘n reeks konserte van Jules de Corte se musiek aangebied – GRENZELOOS NEDERLANDS.

In 2015 is hy ook deel van ‘n optrede by Herman van Veen se “Arts Centre” in Soest, waar die album “……byvoorbeeld” bekend gestel is. Dié album het ten doel gehad om Nederlandstaliges aan ‘n uiteenlopende verskeidenheid van uitnemende Afrikaanse musiek bekend te stel en sy liedjie LEEUSPRUIT is deel daarvan.

JNS MUSIEK
Jannie begin JNS Musiek om minder kommersiële Suid-Afrikaanse musiek te bevorder. Dié onafhanklike musiek-katalogus wat in die negentigerjare oor ‘n honderd CD’s vrygestel het, beywer hom steeds vir artistiek uitstaande musiek.

Loer hier onder na een van sy treffende musiekvideo’s:- Jannie du Toit – Liedjie vir jou

Enjoyed this post? Share it!

 

Leave a comment